Sunday, 20 September 2015

Die laaste een

Week 9

Die laaste week! En dit was ʼn besige een. Hierdie week het SO vinnig verloop – seker omdat almal allerhande dinge probeer uitsorteer. Al die vorms moes geteken raak, en al die ekstra papier moet na skool geprint word en gespellcheck word. My portefeulje is klaar, en nou is ek tevrede, en kan ek ʼn lekker vakansie hou (soort van). Daar is nog so baie om te doen voor die kwartaal weer begin, maar vir nou fokus ek op die positiewe.

Hierdie week het ek my tyd goed probeer benut. Die laaste bietjie met die leerders gesels en my laaste bietjie skool ingeasem. Ek was nie skaam om ekstra werkies te doen nie, want ek weet dit is die laaste, en ek dink (snaaks genoeg) dat ek hierdie plek gaan mis as ek weg is. Ek dink terug aan die eerste dag wat ons hier aangekom het en glad nie geweet het waar om te wees of met wie om te praat nie. nou is dit so gemaklik en almal het hul plekkie gekry. Een ding waarvoor ek oneindig dankbaar is, is die goeie vriende wat ek tydens hierdie proeftydperk ontmoet het. Dit maak my ook opgewonde oor die personeel saam met wie ek eendag sal werk.

Ek het nie verwag om goeie vriende met van my mede proefstudente te word nie, inteendeel, ek het verwag dat ons almal baie geïrriteerd met mekaar gaan word, omdat almal onder stres is en in ʼn omgewing is wat vir ons almal ongemaklik en vreemd. Maar nou ken ons mekaar, en almal was saam deur die moeilike en lekke-lag oomblikke. Ons kan nie op gepraat raak oor waar ons volgende gaan uiteet, en tee drink en koek eet nie. Ek waardeer dit, en dit het my proeftydperk soveel beter gemaak. Dit laat my ook dink aan student wat alleen by ʼn skool geproef het. dit moes baie moeilik vir hierdie student gewees het, omdat daar niemand is wat dieselfde ondervinding as jy op daardie oomblik het nie. Ek sou graag wou hoor hoe hulle dit ervaar. Ek glo ek kan iets daarvan leer, want wanneer ek in ʼn pos aanvaar word, gaan daar nie noodwendig nog ander jong onderwysers saam met my aangestel word nie. Then I have to stand my own ground.


So, hierdie week was ʼn gelukkige week. Gelukkig dat ek die kans gekry het om by ʼn skool te kon skoolhou en ʼn band met leerders kon maak. Gelukkig dat ek nuwe vriende kon maak. Gelukkig dat proef klaar is. Gelukkig dat ek weet ek kan teruggaan na ʼn goeie universiteit. En gelukkig dat ek nou ʼn lekker, welverdiende vakansie kan neem.

Sunday, 13 September 2015

Juffrou du Plessis

WEEK 8
Hierdie week het ek basies net geskarrel om al my dinge klaar te kry. Daar is baie om te doen, en ek wil so gou as moontlik alles uitsorteer, sodat ek ‘n regte vakansie kan hê sonder werk. Dit lyk wel nie of dit gaan gebeur nie, want voordat ons eens terug is, het ons alweer take wat moet in wees. So my kop is op tien verskillende plekke met take, portefeulje, aansoeke, refleksies ensovoorts. Ek bied nie meer klass aan nie, so ten minste het ek tyd om hieraan te werk. Dit is duidelik dat die onderwysers ook nou moeg raak vir ons, en ek is gereed om klaar te maak.

Hierdie week was wel baie lekker, juis omdat ek nie die stres vir klas aanbied het nie. Ons moet toesig hou by die matrieks se eksamen, en dit laat my so terugdink aan toe ek matriek was. Dit is so opwindend, alles wat op hulle wag, wat hulle nog moet ervaar. Terselftetyd is dit wat in my lewe ook aan die gebeur is. Ek moet ook nou my horisonne verbreed. Ek moet begin aansoek doen vir poste, en dit maak my so opgewonde om ‘n onderwyser te wees. Aan die begin was ek baie huiwerig, maar nou is ek verseker dat ek dit sal geniet om ‘n onderwyser te wees. Dit is ‘n baie rewarding werk, en wat jy in sit, sal jy uit kry.

Ek sien uit na die laaste week volgende week, maar ek raak wel ‘n bietjie sentimenteel oor die laaste bietjie tyd wat ek oor het. Op ‘n vreemde manier dink ek ek sal die skool mis, maar aan die ander kant is ek BAIE opgewonde om net weer ‘n student te wees vir die laaste rukkie. Om weer te kan uitgaan op weeksaande, om nie meer woorde soos “pouse”, “na skool”, “ekstrakurrikulêr”, “klok lui” en “eerste periode” in my allerdaagse gesprekke te gebruik nie.


Dit gaan vir my ‘n baie groot aanpassing wees om die skuif vanaf student na werkende mens te maak, soos die matrieks nou moet skuif van skool na student. Maar dit lyk nie meer so boos nie, ek is nie meer bang daarvoor nie. Ek is eintlik meer opgewonde, en ek kan nie wag om te sien waar ek op eindig nie. Om my eie klaskamer te hê, en bande met die leersders te vorm. Dit gaan amazing wees, en ek kan nie wag om offisieël Juffrou du Plessis te wees nie.

Monday, 7 September 2015

To learn or not to learn

WEEK 7

Hierdie proeftydperk kan vir baie mense ‘n breeze wees. 9 weke waar jy as proefstudent dag na dag in die personeelkamer kom sit en Facebook. Om ‘n onderwyser te wees verg baie selfmotivering en positiewe denke en verantwoordelikheid. Om ‘n top klas onderwyser te wees is regtig jou eie besluit. Niemand gaan vir jou sê hoeveel moeite om in te sit nie. Dit is alleenlik jou eie keuse waar jy jou eie ervaring konstrueer. Aan die ander kant kan die proeftydperk ook ‘n tyd wees waar jy jouself in jou werk in gooi, en baie baie leer!

Aanvanklik het ek gedink onderwysers doen maar almal dieselfde, maar ek is defnitief verkeerd. Selfs in die skool waar ek geplaas is, is dit baie duidelik. Sommige onderwyser sit geen moeite in nie, nie in hul klaskamer of les aanbiedings nie. Onderwys is nie vir hulle meer lekker nie - nie ‘n passie nie. Ander onderwysers weer aan die ander kant, maak nie saak hoe oud, raak SO opgewonde oor onderwys. Hulle doen moeite met die klasse, doen moeite met die kinders, en dis so tipe onderwyser wat ek strewe om te wees.

Ek kan my indink dat dit moeilik is, en dat mens later nie meer lus is nie. Maar as jy ‘n passie het, sal jy jouself weer optel en dit doen omdat onderwyser jou eerste liefde is. Om eerlik te wees, kan die tipe onderwyser reeds nou in die proeftydperk gesien word.. Om te proef is kunsmatig, en dit is nie vir almal lekker nie. Dit weerspieël defnitief nie wat jou ervaring as onderwyser gaan wees nie. Maar dit is tog nodig, en dit gee perspektief. Dit is ‘n tydperk waar jy kan oefen en alles kan prober om te sien wat vir jou werk.

Hierdie week was daar baie take by die skool waarby die proefstudente betrokke kon raak, maar slegs ‘n handjie vol student het opgedaag om deel te neem. Dit is hier waar ek kan sien dat alle onderwysers nie gemaak is vir onderwys nie. Ek hoop hulle kom gou genoeg agter dat dit nie hul passie is nie, wat onderwys is nie net iets wat jy ligtelik moet opneem, of iets wat jy moet doen omdat jy nie weet wat anders om te doen nie. Dit is die belangrikste beroek daar buite. En ons moet sorg dat ons dit goed doen!


‘n Onderwyser moet baie dinge kan wees, en bereidwillig wees om AL die nodige posisies vol te staan. Een en ding waarvan ek vereseker is – ‘n onderwyser kan NIE lui wees nie. Dit is die een beroep waar die ekstra myl sowaar lewensveranderend (vir jou en jou leerders) sal wees.

Sunday, 30 August 2015

Verantwoordelikheid op skool_WEEK 6

WEEK 6

Ons word so baie geleer dat leerders self gemotiveerd moet wees in hul skool werk, en in die skool waar ek myself bevind pas hulle ook hierdie ideologie toe. Hulle werk nie volgens reëls nie, maar eerder volgens waardes. Daar is nie ‘n dissiplinêre stelsel nie, en geen strawwe wat aan die leerders gegee kan word indien hulle ongehoorsaam is nie. Leerders word dus aangemoedig om self die regte besluite te neem, self goeie punte te wil kry, en self verantwoordelikheid te aanvaar vir hul skoolwerk. Tot dusver het ek gedink hierdie is die beste benadering vir ‘n skool, maar na hierdie week het ek ‘n ander siening gekry.

Ek het in een van my vakke vir die leerders ‘n aktiwiteit gegee, en hulle die hele periode gegee om dit te voltooi. Ek was ook beskikbaar en het my hulp aangebied indien hulle iets nie verstaan nie of vrae wou vra. Ek het geweet dis ‘n hoë standard aktiwiteit, en dus het ek hulle voor die tyd voorberei en seker gemaak hulle weet ek is daar om hulle te help. Niemand het hulp gevra nie, en toe ek die aktiwiteite terugkry, was die uitslae pateties. Nie eens net swak punte nie, maar geen moeite is gedoen aan die aktiwiteit nie. Sommige leerders het dit nie eens gedoen nie, of slegs een word antwoorde geskryf.

As gevolg van dit, dink ek dissipline in ‘n skool is belangrik. Hierdie leerders is gewoont daaraan dat hulle kan doen wat hulle wil, want die skool gaan niks aan hulle doen nie. Hulle hoef nie klas toe te gaan nie, want die onderwysers doen niks as hulle bunk nie. Leerders word gewoont gemaak aan ‘n spesifieke standaard in die skool, en omdat hulle nie aangemodig word om te presteer nie, aanvaar hulle dit te maklik om net “average” te wees.


Dus, leerders moet geleer word van dissipline in hul skool werk, en reëls is nodig vir jong mense. Hulle is nog nie volwasse genoeg om aan hul eie lot oorgelaat te word nie. Hulle het nog nie daardie insig nie. Onderwysers en skole moet rigting gee, en deur geen reëls in die skool te hê nie, word leerders gewoont daaraan om nie aan nagevolge te dink nie. Leerders moet dus, volgens my mening, konstruktief opgevoed word binne ‘n sekere raamwerk.
Dissipline is nodig, dit hoef nie op ‘n hoë skaal te wees nie, maar jong kinders kan nie vertrou word om altyd die regte besluite te neem, sonder leiding van die skool, onderwysers, of beheer sisteem nie.

Sunday, 23 August 2015

Verhoudings is alles_week5

Hierdie week het ek geleer dat dit een van die heel belangrikste dinge is om goeie verhouings te bou in die onderwyse beroep. Met dit bedoel ek goeie verhoudings met jou leerders en kollegas. Hierdie week het ek aktief gekyk na verhoudings tussen leerders en hul onderwyser, en ek glo regtig (sonder om idealisties te klink), dat leerders wil hê dat hulle onderwysers van hulle moet hou.

Ons het n klein debat tussen van die proefstudente daaroor gehad hierdie week, omdat party mense baie sukkel en van mening is dat leerders nie regtig omgee wat die onderwyser dink nie. Ek stem nie saam nie. Baie leerders kom na die skool toe om aanvaarding te kry, iets wat baie kinders nie baie die huis kry nie. Dus glo ek hulle het n soeke na aanvaarding by die skool.

My skakelonderwyser is n toonbeeld hiervan. Wanneer hy n af tydjie het in klas, gesels hy met die leerders oor nie-akademiese sake. Oor hulle vakansie, of sport, of ouers, of enige belangstellings wat hulle het - omdat hy goeie verhoudings met sy leerders het. En die leerders is MAL oor hom. As gevolg hiervan respekteer hulle hom makliker en luister wanneer hy praat en ernstig is.
Aanvanklik het ek gedink hierdie tipe optrede gaan leerders laat voel of die onderwyser sy/haar 'buddy' is, maar dit is nie my obserwasie nie. Uit my ondervinding het dit net n goeie uitwerking. Dit vorm ook deel vam die "holistiese onderwyser" leefstyl wat ons al behandel het in die klas.

Ek sien uit na die res van die proeftyd, want hoe meer ek die leerders leer ken en verhoudings op bou. Hoe makliker en natuurliker kom die onderwys vir my. So dit is waaraan ek nie kon ophou dink hierdie week nie - verhoudings. Want in enige beroep is dit belangrik, maar in onderwys is dit (na my mening) , heel bo aan die lys.

Thursday, 13 August 2015

WEEK 4

Hierdie week het goed begin, maar nou aan die einde het ek regtig ‘n breuk nodig. Ek was vir die eerste keer gekrit hierdie week, en ek dink dit het darm goed gegaan. Hierdie week het ek ‘n bietjie meer ervaar hoe dit in die “regte lewe” is om ‘n onderwyser te wees. Verkeie dinge het my buite die skool besig gehou, en ek moes baie goed my tyd bestuur en beplan om by alles uit te kom. Die ervaring van skool was dus tot nou toe in my oë kunsmatig -  om skool toe te kom en dit is al wat ek het om te doen. In die regte lewe, wanneer ons regte onderwysers is, gaan dit nie so gebeur nie, omdat jou persoonlike lewe ook nog aangaan. Jy moet tyd maak vir vriende en onvoorsiende omstandighede. Hierdie week het my dit geleer – om gebalanseerd te wees is baie belangrik. Ek kan nie vir 5 dae alleenlik aandag aan skool gee, en dan 2 dae alleenlik aan persoonlike sake nie. Ek moet ‘n manier kry om hierdie twee te kombineer. Hierdie week was dit vir my ‘n skok toe ek dit agterkom, maar nou dat ek weet daarvan en doelbewus kan werk hieraan, sal ek die res van my proeftydperk ‘n beter gebalanseerde daaglikse roetine volhou.
Die leerders was hierdie week baie woelig, daar was ‘n markdag, dit was 40 days en die koor het gesing vir die skool. Hierdie alles het bygedra daartoe dat die periodes se tye verander het, wat vir die leerders op ‘n heel ander golflengte plaas. So almal was bietjie besiger en remoeriger as gewoontlik, maar steeds kon alles goed verloop en klasse kon aangaan soos normaal. In weke soos hierdie sal die onderwysers in die peroneel vergadering ook mekaar aanmoedig om bietjie rustiger op die kinders te wees en nie so streng soos gewoontlik te wees nie, omdat die personeel verstaan dat die leerders op hierdie dae bietjie uit hul nate sal wees en dit probeer akkomodeer. Ek vind dit baie spesiaal en bedagsaam van die personeel. Soos ek al voorheen gesê het is hierdie skool regtig vir die leerders en hulle behoeftes kom eerste. Ek dink dit is ‘n baie goeie en belangrike eienskap van ‘n skool.

Volgende week sal seker weer so week wees omdat dit volgende naweek interskole is. So ons sal maar sien wat in daardie lesse gebeur. Vir nou is ek uitgeput en moeg, maar ek is bly ek proef en ek is bly ek sien wat dit regtig vat om ‘n onderwyser te wees.

Friday, 7 August 2015

One, two, THREE

Iets van hierdie skool maak my baie opgewonde. Dit is werklik n skool vir die leerders. Wanneer daar iets gebeur is dit volkome deur en vir die leerders. Ek wens eintlik my skool was meer so. 
Wanneer daar n dans gerëel word, doen die leerders dit. Wanneer daar n saalbyeenkoms is, hanteer die leerders alles. Daar is nie eens onderwysers op die verhoog nie, want die leerders praat met mekaar. Dit skep n baie goeie verhouding tussen leerders en tussen onderwysers en leerders. 
In die personeelkamer word daar ook gedurig gepraat oor hoe om die leerders te hanteer en hoe om hulle gemaklik te laat voel en aan te pas by wat in hul lewens buite akademiese werk gebeur. Dit maak my baie gelukkig, en dit wys my regtig wat dit vat om n goeie onderwyser te wees.

Skool is nou lekker, maar hierdie week het verskriklik stadig verloop! Ek het lesse aangebied en dit baie geniet, omdat dit nou al voel of my klasse MY klasse is. Ons kan al grappies met mekaar maak en daar is n gemklike atmosfeer in die klas (Hulle het selfs virmy gesing op my verjaarsdag). Lesbeplanning raak vir my makliker en aktiwiteite opstel is nie n groot berg wat voor my lê nie. Oor die algemeen was ek baie positief hierdie week.

Hierdie week het ek iets baie belangrik geleer. Ek het na een van studente kollegas se klasse gaan kyk, waar sy Engel moes aanbied. As n Afrikaanssprekende, kan ek getuig dat dit baie intimiderend kan wees. Sy het n pragtige les voorberei, maar sy het haarself baie betwyfel, en dus het leerders nie baie respek getoon nie. Dus - 'n onderwyser MOET selfversekerd wees in die vak wat aangebied word. Flip, selfs al is jy nie seker oor wat jy sê nie, is dit belangrik om selfvertroue uit te straal. Leerders wil glo jy kan hulle iets leer, anders mors jy hulle tyd. Ek betwyfel myself baie, maar ek durf nie dat die leerder dit raaksien nie.

So, ek is gelukkig waar ek is, maar dit put my uit. Ek leer baie! Maar vir nou is dit tyd vir langnaweek, na hierdie lang week.